Op soek na iets in Pretoria om die jongspan mee besig te hou met al die langnaweke op hande? Neem hulle na die Tshwane Events Centre (ou Pretoria-skouterrein) vir ’n reis terug na die oertyd waar “lewende” dinosourusse majestueus in hul volle glorie pronk.
Die DinosAlive-uitstalling is soos ʼn tydmasjien wat ʼn mens miljoene jare terugvoer in die verlede tot waar 25 oergediertes – van die gevaarlike vleisvreter, die tirannosourus Rex, tot die rustige plantvreter, die trikeratops – gesien kan word.
Hierdie realistiese dinosourusse laat oud en jonk geskiedenis herleef te danke aan hul lewensgetroue bewegings, teksture en geluide.
Buiten die uitstalling kan jong argeoloë in ʼn groot sandpunt rondgrawe vir fossiele en ook ware fossiele beskou, waarna daar heerlik in die Dino Fliekkamer ontspan kan word.
Die dinosourusse kuier tot 17 Mei in Pretoria en kan daagliks besoek word. Deure maak om 09:00 oop en sluit om 19:00; die laaste moontlike toegang is om 17:00. Skooltoergroepe is ook welkom. Klik hier om kaartjies te bespreek.
Die dinosourusse migreer daarna na Bloemfontein waar hulle van Junie tot Julie in Bloemfontein by die skouterrein te sien sal wees.
Vir meer: http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/goeie-nuus/fotos-die-dinosourusse-is-hier/